|
Slim verbruikers oorleef swak ekonomiese tye
Mense raak dikwels onseker as die wêreldekonomie onder druk verkeer. Hulle neem dan paniekerige besluite wat later ramspoedige gevolge kan hê.
Dieselfde geld kortsigtige of ondeurdagte versekeringsbesluite. Om jou versekering te staak as die ekonomie knyp, is seker een van die grootste risiko’s waaraan jy jouself kan blootstel. As jy nóú nie eens ’n maandelikse premie kan bekostig nie, hoe sal jy dit kan bekostig om byvoorbeeld jou voertuig te vervang as dit in ’n ongeluk afgeskryf of gesteel sou word?
Só ’n verkeerde besluit kan jou nie net finansieel seermaak nie, dit kan jou ruïneer, sê De Wet.
Daar is slim maniere waarop jy byvoorbeeld jou versekering kan afskaal as dit regtig nodig is. Dit is daarom noodsaaklik dat jy jou persoonlike opsies met een van ons professionele finansiëledienste-adviseurs sal bespreek.
Een van die maniere om op jou premie te bespaar, is om self sekere risiko’s te dra deur jou bybetaling vrywillig te verhoog. Een van die beste besparingsmetodes is om duur, gespesifiseerde items soos juweliersware by die bank te laat toesluit totdat jou finansiële posisie verbeter.
Dit help ook om sekere finansiële dienste te konsolideer, soos byvoorbeeld deur jou huis se geboueversekering óók deur jou korttermynversekering te doen. Die besparing is aansienlik, sê Mouton. Deur met een van ons spesialiste te gesels, kan jy die beste moontlike afskaling beplan sonder dat jy noodwendig in ’n swakker posisie geplaas word indien daar iets met jou sou gebeur.
Die geheim is dat jy onder geen omstandighede jou aaneenlopende versekering moet staak nie. Baie versekeraars weier selfs om dekking toe te staan aan kliënte wat hulle dekking onderbreek het. In die meeste gevalle sal lojaliteits- en geen-eisbonusse ook nie weer toegestaan word as ’n nuwe polis ná ’n onderbreking uitgeneem word nie. Mouton sê dat mense ook nie hulle ore moet uitleen aan allerlei misleidende advertensies wat sogenaamde goedkoper versekering beloof, maar verswyg dat sekere noodsaaklikhede nié verseker is nie. Die geheim is om die kaf van die koring te skei.
De Wet Mouton
Hoofbestuurder:Besigheidsontwikkeling
|