So word u bybetaling vinniger terugbetaal
As dit oor versekeringseise gaan, wil elke kliënt graag hê dat sy eis so vinnig moontlik afgehandel word, sonder probleme of vertragings. Daar is verskeie faktore wat ’n eis kan vertraag, maar u kan help om die proses te bespoedig.
Al is dit moeilik om onmiddellik ná ’n ongeluk heeltemal helder te dink, kan dit baie waardevol wees. Hoe vollediger die inligting is wat u van die ander party(e) verkry wat by die ongeluk betrokke is, hoe vinniger kan die eis afgehandel word en hoe groter is die kans dat u bybetaling van die ander party verhaal kan word.
Verstrek daarom die volledige inligting so gou moontlik aan IntegriSure. Dit sluit in die motorregistrasienommer van die ander party, asook die persoon se volle name en ID-nommer. Moenie net aanvaar wat die persoon sê nie, dring daarop aan om die IDdokument te sien en skryf alles neer – ook die presiese plek en omstandighede waar die ongeluk plaasgevind het.
As die persoon verseker is, kry ook volledige inligting oor die versekeraar. As dit enigsins moontlik is, teken die name, adresse en telefoonnommers aan van alle onafhanklike getuies op die ongelukstoneel.
Indien daar ’n polisiebeampte op die toneel is, verkry ook sy/haar volledige besonderhede.
Onthou die naam van die polisiestasie waar die ongeluk aangemeld is en skryf die verwysingsnommer van die aangemelde saak neer.
Al het u geskrik en al is u onseker wie die skuldige party is, moet u geen belofte of onderneming namens u versekeraar maak nie. Dit is van kritieke belang om te onthou dat ’n bybetaling slegs terugbetaal kan word as ’n suksesvolle verhaling teen die skuldige party plaasgevind het.