“Kleinkinders kan ‘n groot rol speel om verwydering tussen hul ouers en grootouers teen te werk”, sê Arnold van der Linde, Besturende Direkteur van IntegriSure, wat spesialiseer in dienste en produkte vir mense bo 50. Sondag 12 September is amptelik Nasionale Ouma- en Oupadag in Suid-Afrika.
Volgens onlangse statistieke is daar duisende ouer mense wat in haglike toestande leef, sonder dat hulle kinders verantwoordelikheid neem vir hulle. Baie van die ouer mense is in ouetehuise. Dit gebeur veral in gevalle waar die pa of ma weer getroud is en te sterwe kom. Die “stiefouer” word dikwels verwaarloos.
Daar is ook duisende gevalle waar ouers en kinders in konflik gekom het en van mekaar verwyder geraak het. Wanneer sulke ouers dan oud en hulpeloos raak, is hulle alleen aan hulle lot oorgelaat.
Die grootste hartseer is dat kleinkinders dikwels daaronder lei. Hulle het as gevolg daarvan geen of ‘n swak verhouding met hulle grootouers. Dit gebeur ook soms dat hulle verskeurd voel tussen hulle ouers en grootouers, a.g.v. die diepliggende verwydering.
“Ongeag die moeilike situasie, kan kleinkinders wanneer hulle ouer word, help om ou wonde tussen hulle ouers en grootouers te genees”, sê van der Linde.
Hy sê, in ‘n land waar ons geleer het om te vergeef en te vergeet, is dit onaanvaarbaar dat bloedfamilie mekaar emosioneel so kan vernietig. ‘n Dag soos ouma- en oupadag, gee ‘n kans vir elke mens om na sy eie verhouding met sy ouers en grootouers te kyk.
In baie gevalle is daar geen doelbewuste of kwaadwillige bedoelings nie, sê van der Linde. Die nuwe gejaagde lewensstyl, kinders wat immigreer en kleinkinders wat in die buiteland gaan werk, lei ook dikwels tot die vereensaming van Ouma en Oupa. Een briefie of ‘n eenvoudige telefoonoproep van ‘n kleinkind, kan ‘n groot verskil maak.