Die uitvoerende hoof van die IntegriSure-groep maatskappye, Arnold van der Linde, maak die aanstelling van Barry Taylor as ‘n nie-uitvoerende direkteur in die direksie van IntegriSure bekend.
IntegriSure se direksie glo Taylor sal ‘n belangrike rol speel omdat hy wyd erkenning geniet vir sy magdom kennis en ervaring van die korttermynversekeringsbedryf. Taylor wat na 35 jaar diens by FNB-versekeringsmakelaars, het onlangs uit die direksie van FNB-versekeringsmakelaars getree, waar hy as uitvoerende hoof gedien het.
Van der Linde sê Taylor se aanstelling pas perfek in by die dinamika van die maatskappy se huidige groep uitgelese direkteure. Taylor sal ook ‘n bydrae lewer tot die strategiese ontwikkeling van die maatskappy en die direksie bystaan om uitgebreide strukture te vestig om die maatskappy se versnelde groei te hanteer.
Taylor dien ook in die direksie van die Vereniging van Finansiële Tussengangers van Suider-Afrika (FIA) waar hy aan die hoof staan van die korttermyn- uitvoerende komitee.
IntegriSure beleef tans ‘n oorweldigend positiewe markreaksie op sy gewysigde strategie om kliënte nou ook buite die tradisionele kommunikasiekanale te bereik en te ondersteun. In die veranderende virtuele omgewing en met behulp van kraakvars tegnologie, voldoen IntegriSure al hoe meer aan kliënte se toenemende voorkeur vir moderner kommunikasiemetodes, sê Van der Linde.