29 Julie 2011: Suid-Afrikaanse versekeringsmaatskappye moet begin saam werk om versekeringsbedrog uit te roei, ooreenkomstig soortgelyke inisiatiewe wat tans in ander versekeringsmarkte wêreldwyd ontwikkel en ingestel word. So ʼn skuif is nie net noodsaaklik vir die volhoubaarheid van die bedryf nie, maar kan ook tot goedkoper premies vir verbruikers lei.
So sê Helen Szemerei, Uitvoerende Hoof by IntegriSure. Sy voeg by dat hoewel daar nie vaste data oor die koste van bedrog vir die plaaslike versekeringsbedryf is nie, ramings daarop dui dat dit tot R4 miljard per jaar kan wees. "Dit is ʼn skokkende syfer en een waarvoor die verbruiker uiteindelik deur middel van hoër versekeringspremies betaal."
Volgens Szemerei kan die plaaslike bedryf by die Verenigde Koninkryk gaan kers opsteek vir ʼn praktiese oplossing. "Die Britse versekeringsbedryf werk saam om die kwessie aan te pak en het £9 miljoen (ongeveer R90 miljoen) by sleuteldeelnemers ingesamel om ʼn polisie-eenheid te befonds wat die geraamde £2-miljard probleem van versekeringsbedrog in die VK sal beveg."
Die polisie-eenheid se opdrag is om versekeringsbedrog te ondersoek en hoëprofiel-sake hof toe te bring, ook om maatreëls te identifiseer om bedrog soos vals eise stop te sit en sogenaamde stampe-vir-rande-swendelary te verhoed.
Szemerei sê dis uiters belangrik dat Suid-Afrikaanse versekeraars kennis neem van sulke pogings en probeer om ʼn soortgelyke model in Suid-Afrika te ontwikkel. "Die Suid-Afrikaanse Versekeringsmisdaadburo (SAICB) het ʼn aantal deelnemers in die versekeringsbedryf betrek om te help met verskeie misdaadbestrydingsinisiatiewe en poog ook om belanghebbers aan te moedig om hulle gewig by hierdie inisiatiewe in te gooi."
Misdaadbestrydingsinisiatiewe wat deur die SAICB ingestel word, sluit in klem op gekloonde voertuie (waar meer as een voertuig dieselfde identifikasienommer het), en ook op opleiding om gesteelde voertuie by grensposte te identifiseer, en sagteware vir outomatiese nommerplaaterkenning by winkelsentrums en tolhekke.
Volgens Szemerei is een van die kernaspekte in die bestryding van georganiseerde misdaad die deel van data. "Georganiseerde misdaad, insluitend sindikate, het dikwels bande met bedryfsbelanghebbers en ander groot diensverskaffers aan die versekeringsbedryf. Gevolglik is dit noodsaaklik om dit op ʼn hoë vlak te hanteer sodat versekeringsbedrog en –korrupsie uitgeroei kan word.
"Sommige bedryfsrolspelers is huiwerig om hulle data te deel, nie omdat hulle teen misdaadbestrydingsinisiatiewe is nie, maar eerder as gevolg van datasekuriteit. Die SAICB is egter baie sensitief oor hierdie kwessie en het die nodige vertroulikheidskontrakte in plek om te verseker dat alle deelnemers gemoedsrus oor die gebruik van hulle data het.
"Dit is in almal se belang dat bedryfsrolspelers en verbruikers aan bedrogvoorkomingsmaatreëls deelneem, omdat ʼn suksesvolle gesamentlike poging beslis tot meer bekostigbare versekeringspremies kan lei."
Media navrae: Bruce Nortje – bruce@integrisure.co.za